AFRIKA SE GOUE ERA 'n Duisend jaar gelede, in die middel van Europa se Donker Eeue, het 'n merkwaardige nedersetting diep in Suider-Afrika 'n goue era beleef. By Mapungubwe, waar die Limpoporivier en die Shashe-rivier ineenvloei, het 'n hoogs gesofistikeerde nasie gewoon, die voorvaders van vandag se Shona-groep. Hulle het in ivoor en goud handel gedryf met China, Egipe en Indië. Vandag vind ons dit bykans ongelooflik dat so 'n vlak van globalisering destyds al kon plaasvind. Die terrein is reeds in 1933 ontdek en word sedertdien deur die Universiteit van Pretoria opgegraaf. Tog kon Suid-Afrika se apartheidsregering (1948-1994) glad nie die konsep van 'n gesofistikeerde Afrika-nasie vereenselwig met hulle destydse visie vir die land nie, en nuus oor hierdie wonderlike ontdekking is eenvoudig stilgehou. (Woordvoerders van die Universiteit van Pretoria sê egter dat die opgrawings net baie lank geneem het). Die gemeenskap van Mapungubwe het vernuftige ambagsmanne gehad wat delikate goue juwele gemaak het, asook pottebakkersware met 'n duidelike Chinese invloed. Die klein renostertjie op die foto is gemaak uit suiwer goud, en was vasgespyker (met piepklein handgemaakte spykertjies van 1 mm lank) teen 'n stuk hout. Die nasie het ook met koper en yster gewerk, met graan geboer (sorghum, boeremanna en bone) en het beeste en skape aangehou. Argeologiese uitgrawings dui aan dat Mapungubwe reeds lank voor Groot Zimbabwe en Thulamela (in die Krugerwildtuin) bestaan het. Daar word gespekuleer dat 'n meteoriet in die 13de eeu klimaatsveranderinge en droogte in die Limpopo-provinsie (soos dit vandag genoem word) veroorsaak het, en dat Mapungubwe se inwoners toe noordwaarts getrek het. Die Mapungubwe-gebied is 'n vertoonstuk in die Limpopo/ Shashe Transgrens-bewaringsgebied (wat bestaan uit dele van SA, Zimbabwe en Botswana) en sal hopelik binnekort as 'n Wêrelderfenisgebied geklassifiseer word. Maar selfs interessanter nog is dat dit Afrika sal help om haar eie visie van haar geskiedenis te verander. Die nasionale kulturele skat van die Mapungubwe-versameling word tans permanent uitgestal by die Universiteit van Pretoria. Die uitstalling bevat 'n groot verskeidenheid materiaal, insluitend die beroemde goue renostertjie, 'n goue septer, bak en ander goue ornamente. Daar is ook koper, yster, ivoor en glaskrale, 'n Chinese vaas en keramiekware. Die uitstalling is in die Ou Kunste-gebou (wat self ook 'n nasionale monument is).